Laerskool in Phalaborwa

Skoolreëls

Amptelike skooldag:

  1. Alle leerders moet ten alle tye betyds wees vir die skooldag.
  2. ‘n Skooldag begin amptelik 07:00 en eindig tussen 12:00 en 13:30 (afhangende van die graad).
  3. Die leerders se tasse word voor hulle onderskeie voogde se klasse, in rye geplaas.
  4. Die leerders in die seniorfase, wat op die boonste verdieping is, se tasse word voor skool en tydens pouses in netjiese rye in die vierkant, waar hulle dan aantree om na hulle onderskeie klasse te beweeg.
  5. Maandae tree die leerders, in hulle onderskeie rye, netjies voor die saal aan.
  6. Vyf minute voor die einde van die dag, lui ‘n klok wat ‘n aanduiding is om stil te raak en af te sluit.

Personeelkamer:

  1. Geen leerder word toegelaat om enige tyd in die personeelkamer in te gaan nie.
  2. Geen leerder mag die personeel onderbreek tydens ‘n opening of ‘n vergadering nie.  Dit geskied elke oggend vanaf 06:45 tot 07:00.
  3. Geen geraas mag naby die personeelkamer plaasvind, tydens die opening en vergaderings nie.

Skoolsaal:

  1. Geen leerder mag sonder die toesig van ‘n onderwyser, in die saal oefen, speel of enige iets dergeliks doen nie.
  2. Spelery, hardloop en praat word nie in die skoolsaal toegelaat nie.
  3. Geen leerder mag die toilette van die saal tydens skoolure gebruik nie.
  4. Geen leerder mag aan die gordyne van die saal hang of daaraan vat nie.
  5. Geen leerder mag van die verhoog af spring nie. Slegs wanneer daar toesig van ‘n onderwyser is, word leerders op die verhoog toegelaat.
  6. EET-  EN DRINKGOED IN DIE SAAL IS VERBODE!

Klaskamers:

  1. Dissipline en orde sal in die klaskamers gehandhaaf word, volgens die onderwysers se reëls en regulasies.
  2. Leerders mag nie die klaskamer verlaat, sonder die onderwyser se toestemming nie.
  3. Geen leerder mag sonder die toestemming van ‘n onderwyser, voor- of nà skool, of gedurende pouse, in ‘n klaskamer wees nie.
  4. Alle skoolmeubels moet opgepas word.  Geen merke mag op die meubels gemaak word nie.  Geen skroewe mag uit stoele gedraai word nie.
  5. Klaskamers moet ten alle tye netjies en skoongehou word deur die leerders self.
  6. Leerders moet klasse altyd ordelik en gedissiplineerd binnegaan en verlaat.
  7. Leerders mag nie op stoele "ry" nie.

Wisseling tussen periodes:

  1. Die leerders moet ordelik en gedissiplineerd in rye stap, sonder om te gesels. Die spesifieke roetes moet ten alle tye gevolg word, behalwe wanneer dit reën.
  2. Elke onderwyser sal tydens wisseling buitekant die klaskamers puntdiens doen, om toesig te hou.
  3. Dogters verlaat eerste die klasse met die klasleidster  voor en daarna volg die seuns met die klasleier agter.
  4. Alle leerders wissel in een ry.
  5. Geen leerder mag ‘n ander leerder op die trappe of in die rye stamp nie.
  6. Geen leerder mag oor die gras stap nie. Gebruik die paadjies.
  7. Leerders moet vining stap en nie drentel nie.
  8. Daar mag geensins op die stoepe gehardloop word nie!
  9. Geen leerder mag laat by die volgende klas aankom nie.
  10. Tasse mag op die rug gedra word of in die hand, maar wees versigtig om nie ander leerders met jou tas te stamp nie.
  11. Geen leerder mag aan 'n leerder se tas hang, of daarmee peuter tydens wisseling nie.

Selfone:

  1. Geen selfone word by die skool toegelaat nie!  Indien jy ‘n selfoon vir een of ander rede by die skool moet hê, moet jy voor die tyd toestemming by die HOOF kry en dan moet die selfoon die oggend voor skool by die kantoor ingehandig word.  Fone kan dan weer 13:00 by die kantoor afgehaal word vir sport.  (Maak seker jou foon is gemerk en afgeskakel by inhandiging).
  2. Indien ons ‘n selfoon by ‘n leerder ontdek, konfiskeer ons die selfoon en die leerder kan die selfoon weer kry aan die EINDE van die jaar.  Dit geld ook vir die sim-kaart binne-in. Hierdie selfone word veilig in die kluis gebêre.

Speelgoed:

  1. Geen speelgoed van enige aard, word by die skool toegelaat nie.  Dieselfde reël as by die selfone geld ook hier.  Dit sluit plakkers “stickers” in.

Pouses:

  1. Geen leerder mag voor skool, pouses of na skool tussen die geboue of in die klaskamers wees nie, behalwe as daar toesig van ‘n onderwyser is.
  2. Slegs leerders wat spesifieke dienste moet lewer, mag op die stoepe, of tussen die geboue, of in die klaskamers wees.
  3. Leerders speel op spesifieke plekke soos per graad toegewys: Graad 1 tot graad 3 dogters op die graswal naby die netbalbane, graad 4 tot graad 7 dogters op die netbalbane, graad 1 en 2 seuns op die walle van die A-rugbyveld, graad 3 en 4 seuns op die A-rugbyveld, graad 5 en 6 seuns op die B-rugbyveld, graad 7 seuns op die C-rugbyveld.
  4. Geen leerder word tydens pouses by die lapa toegelaat nie.
  5. Geen leerder mag agter die mediasentrum en naby die fietsloods speel nie.
  6. Seuns en dogters mag met mekaar gesels gedurende pouse tussen die netbalbane en die C-rugbyveld.
  7. Seuns en dogters mag met mekaar gesels op die paviljoene.
  8. GEEN LEERDER MAG OOIT OP DIE PAVILJOENE HARDLOOP OF SPRING NIE.
  9. Leerders mag nie handel dryf deur die draad of met enige iemand gesels deur die draad, gedurende pouses of skooltye nie.
  10. Geen leerder mag betrokke wees by gevaarlike speletjies nie.
  11. Jy mag geen bome, plante of enige eiendom van Laerskool Phalaborwa beskadig nie.
  12. Geen leerder mag in bome klim of oor enige skoolheining nie.  Dit sluit die swembadheining ook in.
  13. Geen leerder mag die swembadarea binnegaan, sonder die toesig van ‘n onderwyser/ enige gekwalifiseerde swemafrigter nie.
  14. Leerders moet in netjiese rye voor die snoepie aantree en nie mekaar wegstamp of stoot nie.
  15. Pouses is daar om eerstens die toilet te besoek en dan te eet.  Wanneer die eerste klok lui, moet jy dadelik vinnig na jou aantreeplek by jou klas stap. Wanneer die tweede klok lui, moet jy reeds in jou ry aantree. Laatkommers maak die hele klas laat en so verloor ons onderrigtyd.

Skooltasse:

  1. Skooltasse wat versterkte afdelings het, wat handboeke kan beskerm, is ‘n vereiste.
  2. Geen oop rugsakke, handsakke of sportsakke, word toegelaat om boeke in te dra nie.
  3. Sportsakke word slegs vir sportdoeleindes toegelaat.
  4. Geen onwelvoeglike spreuke, tekens of tekeninge mag op tasse gemaak word nie.
  5. Tasse mag nie rondgegooi, of van die verdieping afgegooi word nie.
  6. Geen leerder mag in iemand anders se tas krap of die tas beskadig nie.
  7. Geen tas of sportsak mag tydens klastyd buite die klas wees nie.
  8. Geen tas mag sommer net neergegooi word nie.  Die tasse moet netjies in rye neergesit word waar jy aantree.

Algemene skoolreëls:

  1. Alle reëls van Laerskool Phalaborwa moet deur die leerders onderhou word, sodat die skool se waardigheid en naam hoog gehou kan word.  Leerders moet ten alle tye ambassadeurs van ons skool wees.
  2. Leerders van Laerskool Phalaborwa mag hulle, onder geen omstandighede op enige terrein buite die skool skuldig maak aan wangedrag, wat die skool se goeie naam kan benadeel nie.  Wangedrag sluit in die gebruik van drank, rook, dwelms, onwelvoeglike taalgebruik, besit van pornografiese materiaal of bakleiery.
  3. Geen speelgoed of troeteldiere mag skool toe gebring word nie, behalwe vir demonstrasies of klassikale onderrig.
  4. Leerlinge moet alle skoolfunksies bywoon in skooldrag.  Slegs ‘n skriftelike verskoning van ouers, wat by die betrokke onderwyseres ingedien word, is aanvaarbaar.
  5. DIEFSTAL IN LAERSKOOL PHALABORWA IS VERBODE.
  6. Afknouery en bakleiery is verbode.
  7. Geen leerder mag op die skoolterrein met ‘n fiets ry nie.  Dit geld ook vir nà skool by sportoefeninge of sportbyeenkomste.  Fietse moet ten alle tye in die fietsloods gebêre en gesluit word.  Dit bly die kind se verantwoordelikheid.
  8. Die opbou, netheid en instandhouding van die terrein, is alle leerders se verantwoordelikheid.
  9. Wanneer afkondigings oor die interkom of luidspreker gemaak word, moet alle leerders dadelik stilbly.
  10. Geen balspele word tussen die geboue, of in die klaskamers, of teen die mure toegelaat nie.
  11. Enige breekskade of kwaadwillige beskadiging van skooleiendom, sal deur die skool vanaf die leerder/ oortreder se ouers/ voogde verhaal word.
  12. Eet en drink gedurende lesure is nie toelaatbaar nie, behalwe in die geval van diabetes.  ‘n Doktersbrief is in so ‘n geval is 'n vereiste.
  13. Leerders moet gedurende pouses toilet toe gaan.  Slegs in uitsonderlike noodgevalle, of indien daar ‘n mediese probleem is, sal die leerder toegelaat word om tydens lesure die klas te verlaat.
  14. Geen kougom word op die skoolterrein toegelaat nie.
  15. Geen leerder mag aan die skakelbord of elektriese installasies peuter nie.
  16. Geen leerder mag die skoolterrein verlaat tydens skoolure, sonder die toestemming van die hoof nie.
  17. Geen ouer mag ‘n onderwyser by die klaskamer besoek, sonder dat u nie voor die tyd ‘n afspraak gemaak het en eers by die kantoor aangemeld het nie.
  18. Indien ‘n ouer / voog ‘n leerder tydens skoolure moet kom haal, moet u eers by die kantoor aanmeld en ‘n briefie ontvang, wat u toestemming gee om die leerder te neem.

Kleedkamers:

  1. KLEEDKAMERS MOET TEN ALLE TYE SKOON EN NETJIES GEHOU WORD.
  2. Dit is elke leerder se plig om die kleedkamer skoon en netjies te laat.  Indien dit vuil is, of daar blokkasies of lekkasies is, moet dit dadelik gerapporteer word.
  3. Gebruik asseblief die toiletpapier spaarsamig en was jou hande!  Onthou om die kraan mooi styf toe te draai.
  4. Geen gespelery of samedromming in kleedkamers word toegelaat nie.

Afwesighede:

  1. Indien ‘n leerder afwesig was, moet ons ‘n skriftelike verskoning van die ouer / voog ontvang, maar verkieslik ‘n doktersbrief.  Elke leerder is wetlik skoolpligtig!
  2. Dit is die afwesige leerder se eie verantwoordelikheid om betyds uit te vind watter werk agter is, watter huiswerk gedoen moet word om die werk dan betyds in te haal.  “Ek was afwesig” tel nie meer nie.
  3. Indien ‘n leerder afwesig was tydens enige toets, sal die toets geskryf word, sodra die leerder weer aanwesig is, of soos met die betrokke onderwyser/es gereël is.

Laerskool Phalaborwa – Skoolreëls vir dogters

Skooldrag:

  1. Groenskoolrokke met die gordel (belt) netjies in die middel deur die lussies. Geen gordel mag los hang op die heupe nie.  Rokke se lengte moet 12-15cm bokant die knie sit, wanneer 'n dogter op haar knieë staan.
  2. Vanaf 1 September tot 1 April moet die dogters slegs Groenskoolrokke dra.  Slegs in uitsonderlike koue weer mag Groenskoolsweetpakke of – windbrekers gedra word, gedurende bogenoemde tydperk.
  3. Vanaf 2 April tot 31 Augustus mag die dogters Groenskoolsweetpakke of –windbrekers dra.
  4. Skooldrag moet ten alle tye netjies en skoon wees.

Skoene en kouse:

  1. Swart skoolskoene met kort Groenskoolkouse word in die somer gedra.
  2. Geen skoolskoene met dik sole of enige snaakse tipe skoen mag gedra word nie.
  3. Gedurende die winter mag die dogters swart skoolskoene met Groenskoolkniekouse dra.
  4. Tydens amptelike skoolfunksies mag slegs kort Groenskoolkouse gedra word.
  5. Geen tekkies mag by ‘n skoolrok gedra word nie.
  6. Oordentlike tekkies mag gedurende die winterseisoen by Groenskoolsweetpakke gedra word.
  7. Skoene moet skoon en blink wees met aankoms by die skool.
  8. Los some of nate moet dadelik reggemaak word.
  9. Vervang dadelik verlore knope.

Hare en naels:

  1. Hare moet altyd skoon en netjies wees.
  2. Kuiwe mag nie in die oë hang nie.
  3. Geen los slierte mag langs die gesig af hang nie.
  4. Wanneer die hare aan jou kraag raak, moet dit vasgebind word in een of twee bokstertjies of vlegseltjies.
  5. Slegs groen, geel of wit haarlinte, plastiese haarbande of rekbolletjies.
  6. Geen snaakse of vreemde style mag gedra word nie.
  7. Hare mag onder GEEN omstandighede gekleur word nie.  GEEN sonstrepies mag in die hare gesit word nie.
  8. GEEN "gel" of enige iets anders mag aan die hare gebruik word nie.
  9. Geen ornamentele haarknippe of strikke mag in die hare gesit word nie.
  10. Kopluise is aansteeklik!  Indien jy nete of luise het, moet jy tuis bly en die probleem behandel, voordat jy weer skool toe mag kom.
  11. Naels moet altyd skoon en netjies en kort wees, sonder enige vorm van naellak - ook nie op toonnaels nie!
  12. Dogters mag nie hare in 'n seunstyl knip/skeer nie.

Juwele:

  1. Klein goue oorringetjies of klein goue oorknoppies mag gedra word.
  2. Geen verjaarsdagstene of enige iets anders is toelaatbaar nie.
  3. Net een gaatjie per oor is toelaatbaar.
  4. Slegs seëlringe, kettinkies of armband van enige aard, mag by skoolklere gedra word nie.
  5. Geen borsspelde of enige ander versierings mag by skoolklere gedra word nie.

Grimering:

  1. GEEN grimering van enige aard mag by skooldrag aangewend word nie.

Sportdrag:

  1. Provinsiale sportdrag wat jyself verwerf het, mag slegs op Vrydae gedra word.
  2. Tydens alle sportbyeenkomste, moet jy die amptelike Groenskoolsportdrag vir die spesifieke sportsoort dra.  Geen ander drag/ bont drag sal toegelaat word nie.

Verjaarsdae:

  1. Jy mag slegs die dag waarop jy verjaar, gewone klere aantrek.  Indien jy die Saterdag verjaar, trek jy jou gewone klere die Vrydag, voordat jy verjaar aan. Indien jy die Sondag verjaar, mag jy die Maandag jou gewone klere aantrek.
  2. Wanneer jy gewone klere aantrek, hetsy met jou verjaarsdag of enige ander dag, soos wanneer die hoof dit met jou reël, moet jy die volgende onthou:

Laerskool Phalaborwa – Skoolreëls vir seuns

Skooldrag:

  1. Groenskoolhemp en broek.
  2. Die hemp moet ten alle tye ingesteek wees.
  3. Vanaf 1 September tot 1 April moet die seuns slegs die Groenskoolhemp en broek dra.  Slegs in uitsonderlike koue weer mag Groenskoolsweetpakke of windbrekers gedra word, gedurende bogenoemde tye.
  4. Vanaf 2 April tot 31 Augustus mag die seuns Groenskoolsweetpakke of -windbrekers dra.
  5. Geen T-hemde mag onder die skoolhemp gedra word nie.
  6. Skooldrag moet ten alle tye skoon, heel en netjies wees.

Skoene en kouse:

  1. Swart of bruin skoolskoene met Laerskool Phalaborwa se erkende skoolkouse mag gedra word.
  2. Geen opgeboude skoene of enige ander skoen mag saam met die skooldrag gedra word nie.
  3. Tydens die winterseisoen mag die seuns tekkies aantrek saam met die Groenskoolsweetpak.
  4. Skoene is nie verpligtend nie, maar tydens amptelike skoolfunksies moet die seuns skooldrag met skoolskoene dra.
  5. Skoene moet skoon en blink wees met aankoms by die skool.

Hare en naels:

  1. Hare moet ten alle tye skoon, netjies en kort gesny wees.
  2. Geen “steps” mag ingesny word of oorhang kuiwe nie.
  3. Geen gel of iets anders mag in die hare gevryf word nie.
  4. Hare mag onder geen omstandighede gekleur word nie.
  5. Geen sonstrepies mag in die hare gesit word nie.
  6. Kopluise is aansteeklik!  Indien jy nete of kopluise het, moet jy by die huis bly en die probleem behandel, voordat jy weer mag skool toe kom.
  7. Geen snaakse of uitheemse haarstyle word toegelaat nie.
  8. Wangbaarde moet kort en netjies wees.
  9. Naels moet kort en skoon wees.

Juwele:

  1. Geen hangertjies, ringe of armbande van enige aard, mag saam met skooldrag gedra word nie, behalwe om mediese redes.
  2. Geen oorringe mag gedra word nie.

Sportdrag:

  1. Slegs Vrydae mag jy Provinsiale sportdrag, wat jyself verwerf het, aantrek.
  2. Tydens alle sportbyeenkomste moet jy die amptelike Groenskoolsportdrag, vir die spesifieke sportsoort dra.  Geen ander drag / bont drag sal toegelaat word nie.

Verjaarsdae:

  1. Jy mag slegs die dag wanneer jy verjaar, gewone klere aantrek.  Indien jy die Saterdag verjaar, mag jy die Vrydag voordat jy verjaar, gewone klere aantrek. Indien jy die Sondag verjaar, mag jy die Maandag jou gewone klere aantrek.
  2. Wanneer jy gewone klere aantrek, hetsy met jou verjaarsdag of enige ander dag, soos wanneer die hoof dit met jou reël, moet jy die volgende onthou:
Hekwagseuns 2025 Logo Image
Hoofleiers 2025 Logo Image
Hekwagdogters 2025 Logo Image
Medialeiers 2025 Logo Image
Skolierdogters 2025 Logo Image
Skolierseuns 2025 Logo Image
Leierdogters 2025 Logo Image
Leierseuns 2025 Logo Image