In die grondslagfase streef ons daarna om elke kind geborge en veilig te laat voel. Dit is vir ons baie belangrik dat elke leerling se potensiaal ten volle bereik word, maar dat daar ook genoeg aandag gegee kan word aan 'n leerling, wat 'n probleem ondervind. In die grondslagfase het ons ervare onderwyseresse wat 'n passie vir die onderwys het. Daar word gepoog om op hoogte te bly met die nuutste verwikkelinge in die onderwys.
Elke kind is uniek. Elke kind ervaar en interpreteer inligting op hul eie manier. Daarom gebruik die onderwysers verskillende benaderings om die werk interessant en verstaanbaar vir al die leerlinge te maak.
Volgens die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring (KABV) vir graad 1 tot 3, het die grondslagfase vyf vakke:
- Huistaal (Afrikaans)
- Eerste Addisionele Taal (Engels)
- Wiskunde
- Lewensvaardigheid: Aanvangskennis en Skeppende Kuns
- Liggaamsopvoeding en Persoonlike en Sosiale Welsyn
Afrikaans:
In die grondslagfase is die belangrikste vaardighede in die kurrikulum vir Huistaal die volgende:
- Luister en praat
- Lees en klanke
- Skryf en handskrif
Die Taleprogram word met al die ander vakke geïntegreer. Taal word oor die kurrikulum heen in alle mondelinge, lees- en skryfwerk gebruik. Baie van die luister- en praatvaardighede sal ontwikkel word in Wiskunde en Lewensvaardigheid.
English:
In the Foundation Phase, the skills in the First Additional Language are:
- Listening and speaking
- Reading and phonics
- Writing and handwriting
Wiskunde:
Wiskunde in die grondslagfase bestaan uit vyf inhoudsareas. Elke inhoudsarea dra tot 'n spesiefieke vaardigheid by. Die inhoudsareas is as volg:
- Getalle, bewerkings en verwantskappe
- Patrone, funksies en algebra
- Ruimte en vorm (Geometrie)
- Meting
- Datahantering
Lewensvaardigheid:
Die vak Lewensvaardigheid is die middelpunt vir die holistiese ontwikkeling van leerlinge. Dit het betrekking op die sosiale, persoonlike, intellektuele, emosionele en fisiese groei en die manier waarop dit geïntegreer word. Lewensvaardigheid is 'n vak wat oor verskillende terreine heen sny en moet die onderrig van die ander kernvakke in die grondslagfase ondersteun en versterk. Assessering in Lewensvaardigheid gedurende die Junior Primêre fase ondersteun en versterk die kind in totaliteit.
Assessering in Lewensvaardigheid gedurende die grondslagfase is meestal informeel en deurlopend van aard. Die formele assessering van elke leerder, wat een keer per kwartaal moet plaasvind, moet formeel deur die onderwyser opgeteken word.